18.06.2010

Sweepslag van resessie gaan landbou nou eers tref

Die landbou gaan die uitwerking van die wêreldwye resessie nou eers begin voel, sê prof. Johan Willemse, voorsitter van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat.

“Ek dink die landbou se moeilikheid lê nog voor. Die sweepslag van die resessie gaan die landbou in die volgende jaar begin tref,” het hy op die Landboubesigheidskamer se kongres op Somerset-Wes gesê.

Soos in die verlede, kan Suid-Afrika nie gebeure in die res van die wêreld ignoreer nie. Waar dit hoofsaaklik banke en maatskappye was wat in 2007 en 2008 bankrot gespeel het, het ’n tweede skokgolf, waarin lande bankrot kan gaan, die wêreld begin tref. Die probleem vir die Suid-Afrikaanse landbou is dat talle van die lande wat probleme kan ondervind, in Europa is. Europa is die eindbestemming van sowat 40% van Suid-Afrika se landbouprodukte wat uitgevoer word.

Willemse sê ’n jaar of wat gelede was die algemene wysheid nog dat regerings die oplossing vir die finansiële krisis is, maar nou word daar gemeen dat regerings veral ten opsigte van skuld eerder die probleem is. Boonop is die verwagting dat staatskuld in verskeie ontwikkelde lande verder gaan toeneem. In daardie verband vaar ontluikende ekonomieë aansienlik beter.

Regerings delg gewoonlik hul skuld deur belastings te verhoog of staatsbesteding te verlaag. Sodanige maatreëls kan tot laer lewenstandaarde in veral Europese lande lei en selfs verminderde steun aan die landbou in daardie lande.
Laer lewenstandaarde in die lande wat landbouprodukte uit Suid-Afrika invoer én die huidige sterk rand hou min goeie vooruitsigte vir Suid-Afrika se uitvoerbedryf in, sê Willemse. “Ons verdien minder met uitvoer, want die rand word sterker. Ons is hier op ’n plek waar ons nie graag wil wees nie.”
Volgens hom gaan die landbou en landbou-ondernemings se winsgewendheid vanjaar laer wees as verlede jaar. Netto wins gaan laer wees, veral in die graanbedryf. Willemse sê wat goed is, is dat die prys van grond wêreldwyd styg. “Dit beteken ons het die vermoë om geld te leen. As grond se waarde as sekuriteit egter gaan verdwyn, het ons probleme.”

Copyright © 2018 by Agricultural Business Chamber