03.06.2010

Resessie sal landbou nou eers tref

Die landbou gaan die uitwerking van die wêreldwye resessie nou eers begin ervaar, sê prof. Johan Willemse, voorsitter van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat.

“Ek dink landbou se moeilikheid lê nog voor. Die sweepslag van die resessie gaan die landbou in die volgende jaar begin tref,” het hy tydens die Landboubesigheidskamer (LBK) se kongres op Somerset-Wes gesê.

Die landbou gaan die uitwerking van die wêreldwye resessie nou eers begin ervaar, sê prof. Johan Willemse, voorsitter van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat.

“Ek dink landbou se moeilikheid lê nog voor. Die sweepslag van die resessie gaan die landbou in die volgende jaar begin tref,” het hy tydens die Landboubesigheidskamer (LBK) se kongres op Somerset-Wes gesê.

Soos in die verlede, kan Suid-Afrika nie gebeure in die res van die wêreld ignoreer nie. Waar dit hoofsaaklik banke en maatskappye was wat in 2007 en 2008 bankrot gegaan het, het ‘n tweede skokgolf, waarin lande bankrot kan gaan, die wêreld begin tref. Die probleem vir Suid-Afrikaanse landbou is dat heelparty van die lande wat probleme kan optel, in Europa is - die eindbestemming van sowat 40% van die land se landbou-uitvoere.

Verdien minder met uitvoer
Laer lewenstandaarde in die lande wat landbouprodukte uit Suid-Afrika invoer én die huidige sterk rand, hou min goeie vooruitsigte vir die plaaslike uitvoerbedrywe in. “Ons verdien minder met uitvoere, want die rand word sterker. Ons is hier op ‘n plek waar ons nie graag wil wees nie.”

Willemse het gesê handelsbedrywighede in die landbou wemel van teenstrydighede, en ‘n herposisionering van landboubeleid en die struktuur van die landbou is nodig om dit te verander.

Dis vir hom onverklaarbaar dat Suid-Afrika met ‘n groot mielie-oorskot van 4,5 miljoen ton sit, maar groot hoeveelhede hoendervleis invoer, veral in die lig van planne om mielies uit te voer ten spyte van die land se gebrekkige hawe-infrastruktuur. “Ons sit met te veel mielies, maar wil 2,5 miljoen ton daarvan uitvoer, en moet koring invoer. Hoe kry ons die produkte uit die hawe? Hier is besig om groot bottelnekke te ontstaan.”

Willemse het dié dilemmas voor die deur van ontoereikende landboubeleid gelê. “Ons moet kyk na ons invoertariefbeleid en in plaas van ingevoerde goed heen en weer te ry met gebrekkige vervoerinfrastruktuur, liewer ‘n binnelandse mark vir ons eie produkte te skep.”

Groot boetes ruk handuit
Hy het gesê die Mededingingskommissie se pogings om te verseker dat mededingendheid in die landbou gehandhaaf word, is besig om handuit te ruk. Die groot boetes wat maatskappye opgelê word, bring die verspreiding en insameling van inligting, wat noodsaaklik vir die funksionering van die mark is, tot stilstand en kan daartoe lei dat investering in die landbou in die slag bly.

Willemse sê ‘n gebrek aan markinligting kan beplanning benadeel en investering in die landbou knou omdat dieé wat deur belegging bevoordeel kan word, nie behoorlike sakeplanne sonder genoeg inligting kan opstel nie.

Hy het ook gewonder wat word van al die geld wat as boetes betaal word en opgemerk dat baie van dit wat as samespanning beskou word, niks meer as die uitruil van inligting is nie.

Article source: www.landbou.com

Copyright © 2018 by Agricultural Business Chamber