30.09.2013

Landbou verloor beleggings weens stakings

Pretoria. – Die gevaarligte begin flikker vir beleggings in die Suid-Afrikaanse landbousektor.

Dié waarskuwing is gerig in ’n paneelbespreking op die AMT Landbou-vooruitskouingskonferensie wat Maandag in Pretoria gehou is.

Groter onsekerheid oor arbeidsonrus en die uitkoms van grondhervorming begin sy tol eis en kan selfs teenproduktief vir die regering se groeidoelwitte wees, het kenners gewaarsku.

Kapitaalbeleggings in die landbou het sedert die 1980’s in reële terme afgeneem, sê dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz.

Hy het ook verwys na statistieke wat die departement van landbou self verkry het dat plase se netto inkomste die afgelope paar jaar sywaarts beweeg terwyl landbouskuld toegeneem het.


“Veranderde beleggingspatrone in die landbou sal waarskynlik ’n werklikheid word namate onsekerheid oor arbeidsregulasies toeneem,” sê Purchase.

Dr. Theo de Jager, vise-president van AgriSA, was selfs meer reguit hieroor.

“Die De Doorns-opstande het ’n verband tussen grondhervorming en arbeid getrek wat ’n onmiddellike impak op arbeidsintensiewe landboubedrywe gehad het.”

De Jager wys daarop dat Suid-Afrika reeds weens arbeidsprobleme sy tee- en koffiebedrywighede verloor het, terwyl lande soos Kenia en Rwanda die geleentheid aangegryp het. “Ons is op pad om piesangs te verloor. Ons bedryf is in die moeilikheid. Ander arbeidsintensiewe bedrywe kan volg, soos baba-groente, waar produsente deesdae uitwyk na Mosambiek.”

Katishi Masemola, sekretaris van die Food and Allied Workers’ Union (Fawu), sê plaaswerkers wil allermins sien dat die landboubedryf in Suid-Afrika ondergaan, maar hulle is vasbeslote dat transformasie nodig is.

Hy meen dit is te gou om te sê of die styging van 52% in die minimum lone van plaaswerkers ’n negatiewe uitwerking op die bedryf sal hê. Hiervan het Marius Rieger van die landbouwerkgewersorganisasie skerp verskil. “Minimum lone raak reeds ons lede. Daar is honderde indien nie duisende werkers afgelê of werkure verminder omdat boere nie kan bekostig om hulle te betaal nie.”

Article source: www.beeld.com

Copyright © 2018 by Agricultural Business Chamber