16.08.2013

Reserwebank ingelig: Onsekerhede maak beleggers langtand

Die nasionale verkiesing volgende jaar en gepaardgaande politieke ontwikkelings veroorsaak onsekerhede en ontwrigtings wat beleggers huiwerig maak om in die landbou te belê.

Volgens me. Lindie Stroebel, bestuurder van ekonomiese inligting by die landbousakekamer Agbiz, skep verskeie beleidsontwikkelings ook verdere onsekerheid wat beleggers se geldelike aptyt demp en likiditeit beïnvloed.

Dit gebeur omdat aanbiedinge byvoorbeeld nie op plase gemaak kan word waarop daar grondeise is nie.

Agbiz was onlangs deel van ’n verteenwoordigende groep uit die georganiseerde landbou wat met me. Gill Marcus, president van die Reserwebank, vergader het oor faktore wat landboubeleggings in Suid-Afrika strem.

Stroebel sê beleid wat die grootste impak op beleggersvertroue het, is voorgestelde wysigings aan die Wet op die Herstel  van Grondregte en die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte, sowel as die wetsontwerp op onteiening, en die wetsontwerp op eiendomswaardering.

Die swak rand strek op kort termyn tot voordeel van die uitvoerbedrywe, maar die kostefaktor daarvan op lang termyn benadeel die landbousektor.
“Marges sal na verwagting klein wees en beleggings sal dienooreenkomstig afneem. Dit sal ’n regstreekse impak op die doeltreffendheid en produktiwiteit van boerderye en landbouondernemings hê omdat minder geld toegewys sal word om tegnologie, navorsing en ontwikkeling te verbeter.”
Stroebel sê die styging in energiekoste en geadministreerde pryse is albei kosteaandrywers. Laasgenoemde word nie in produkpryse weerspieël nie en benadeel die mededingendheid van die landbou- en landbousakesektor.
Arbeidsonrus en -eise is ’n ernstige koste-aandrywer en dit benadeel die beleggingsklimaat.
“Oplossings moet gevind en in werking gestel word om aandag te gee aan die maatskaplike behoeftes in die land.
“Sake-vooruitsigte, veral in die landbousakesektor, moet egter terselfdertyd gekoester word, omdat voedselsekerheid – en baie meer – op die spel is,” sê Stroebel.

Copyright © 2018 by Agricultural Business Chamber