22.02.2013

Kospryse kan met meer as 25% styg

Baie min landboubedrywe toon 10% wins of meer. Die drastiese loonverhoging op kort kennisgewing gaan sommige produsente uit produksie dwing. Dit beteken dat die aanbod verlaag en produktepryse opskiet, sê mnr. Philé van Zyl, uitvoerende bestuurder van ZZ2, een van die grootste tamatie- en uieprodusente in die land.

Hy meen voedselpryse kan met 25% of meer styg.

Die Nasionale Verbruikersunie (NVU) sê hy ondersteun nie die loonverhoging nie. Me. Tuti Rudman, voorsitter van die NVU, vra wat help die verhoging as dit kospryse laat styg en kos vir behoeftiges onbekostigbaar raak?
“Die volhoubaarheid van voedselproduksie is vir ons ’n groot bekommernis. Boere moet winsgewend wees anders hou hulle op produseer.
“Die bose kringloop van onpraktiese en onvolhoubare loonverhogings raak die armes die meeste. Verbruikers gaan weer die spit afbyt,” sê sy.
Dr. John Purchase, uitvoerende bestuurder van AgBiz, sê die hoër loonkoste gaan beslis ’n uitwerking op voedselpryse hê.
“Die koste om sake te doen, styg vinniger as produkpryse. Boere kan nie al die kosteverhogings verwerk nie. ’n Groot deel van die loonverhogings sal verseker deurgegee word na die verbruiker.”
Purchase sê daar is verdere implikasies vir die arbeidsituasie.
“Dit is juis die arbeidsintensiewe bedrywe wat na die buiteland uitvoer. Hulle kan nie prysverhogings deurgee nie, want die kopers skuif bloot oor na mededingers.
“As dié bedrywe weens hoë koste onmededingend raak en markte verloor, moet hulle weer herstruktureer en aanpassings maak wat nóg afleggings beteken,” sê hy.
Liefdadigheidsorganisasies sê dit sal vir hulle baie sleg wees indien voedselpryse styg.
Volgens me. Soekie Thomas van Huis Ebenhaeser in Daspoort, Pretoria, wat vir 60 mense kos gee, sal die getal mense wat gehelp word, verminder moet word.
“Ons sien reeds ’n verskil in veral groenteskenkings wat minder raak.”

Copyright © 2018 by Agricultural Business Chamber