08.02.2013

Landbounuus uit Afrika

Afrika bied geleenthede

Afrika word nie meer gekenmerk deur hopeloosheid nie, maar word gesien as die vasteland van hoop en geleenthede. Dit spog met hoër opbrengste op beleggings as enige ander plek ter wêreld, het pres. Jacob Zuma verlede week op ’n beraad van die Afrika-unie in Addis Abeba gesê. Hy het gesê die optimisme en geleenthede word veroorsaak deur oorvloedige natuurlike hulpbronne, groot hoeveelhede bewerkbare grond, ’n jong bevolking en ’n groeiende middelklas met baie koopkrag. Die vasteland is die wêreldstreek wat die vinnigste groei, met ’n koers van meer as 5%. Hy het gesê om ontwikkelingsdoelwitte te verwesenlik, moet daar groter integrasie op streek- en kontinentale vlak wees om veral die agterstand met infrastruktuur uit te wis. – GCIS

ANGOLA

Landbou is voorrangsaak
Landbou-ontwikkeling is ’n voorrangsaak vir die Angolese regering ten einde die land se afhanklikheid van olie te verminder, voedselinvoer te verlaag en armoede te verlig. ’n Gesamentlike Afrika-forum vir landboubesighede en Suid-Afrika se Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (JADAFA) sê sowat 85% van die werksmag in Angola is by klein- en bestaansboerderye betrokke. Hulle produseer sowat 93% van die land se kos. Angola se klimaat is geskik vir die produksie van ’n verskeidenheid gewasse en produkte, wat insluit piesangs, suikerriet, mielies, koffie, katoen, tabak en kassawe. Die mikpunt van die forum is om handel tussen Suid-Afrika en Angola te ontwikkel en te bevorder deur landbou-beleggings en -vennootskappe.

Copyright © 2018 by Agricultural Business Chamber