14.05.2015

Subsidievoorstel: Nkwinti swyg

Kommersiële landboufinansiers se voorstel dat die sektor R1 miljard per jaar vir grondhervorming sal voorskiet, is ná twee en ’n half maande steeds nie op die regering se radar nie.

Selfs nadat Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, verlede jaar op verskeie openbare platforms die kommersiële landbousektor geroskam het omdat dié nie met haalbare alternatiewe vir sy grondhervormingsvoorstelle vorendag kom nie, het hy nog nie gereageer op die voorstel wat banke en landbou-ondernemings gedoen het om swart kommersiële boere te vestig nie. 

Schalk Pienaar, voorsitter van die landbousakekamer Agbiz, het Woensdag op ’n paneelbespreking op die Nampo-oesdag in die Vrystaat gesê die landboufinansiers het sedert die plan aan die einde van Februarie aan Nkwinti oorhandig is, nog niks van hom gehoor nie. 

Die voorstel behels dat die landboufinansiers en die regering elkeen ’n miljard rand per jaar vir die volgende 15 jaar beskikbaar stel om nuwe swart kommersiële boere te vestig. 

Dit kom in wese neer op ’n soort aanvangsubsidie om die risiko vir al die rolspelers – die boer self, die finansier, asook die regering, te versprei. 
Nkwinti het verlede jaar in ’n toespraak op ’n AHi-beraad gesê boere kan nie vashou aan wat hulle het binne ’n eindelose see van armoede nie en dat jong, arm en halfgeskoolde mense sonder enige sin van eienaarskap en geen sin vir verantwoordelikheid ’n bedreiging vir die gemeenskap inhou.
“Hier is ’n groter kwessie as grondhervorming ter sprake en ons regering kan nie daardie probleem aanhou ignoreer en hoop dat dit weggaan nie,” het Pienaar gesê.

Beeld

Copyright © 2018 by Agricultural Business Chamber