14.08.2015

Uitvoer na Afrika verdubbel

Suid-Afrika se landbou-uitvoer na Afrika-lande het oor vyf jaar verdubbel. Dié groei was vier keer meer as die groei in uitvoer na Europa, sê mnr. Tinashe Kapuya, hoof van internasionale handel en belegging by die landbousakekamer Agbiz.  “Suid-Afrika se landbou-uitvoer in die geheel het die laaste vyf jaar fenomenaal gegroei, deur in nominale waarde met 118,5% toe te neem.” Groei na Afrika het 36,2% hiertoe bygedra, sê Kapuya in ’n verslag gegrond op statistiek van die Internasionale Handelsentrum (ITC). 
- Landbouweekblad

Daarvolgens het Suid-Afrika se landbou-uitvoer na Afrika van R15,4 miljard in 2009 tot R48,5 miljard verlede jaar gegroei. 
Landbou-uitvoer na Afrika het verlede jaar 54% van die totale uitvoer verteenwoordig, vergeleke met 38% in 2009. Van 2009 tot 2014 het landbou-uitvoer na ander streke, soos Asië, die Amerikas, die Midde-Ooste en Oseanië ook goed gegroei, met 63% tot 106%, maar Kapuya sê dit was van ’n betreklik laer grondslag af.

GROENTE
Hy het die ITC-syfers gebruik om die gestandaardiseerde bydraes van landbouprodukte tot Suid-Afrika se algehele uitvoergroei per streek te bereken.
Daarvolgens word die landbou-uitvoer na Afrika grootliks deur die kategorie “groente-plantemateriaal en groenteprodukte” aangedryf, wat vir 13,6% van die groei verantwoordelik was.
Ander groot bydraers was vleis en eetbare vleisafval (7,7%), vis en seekos (6,9%), en koffie en tee (6,6%). 

GRAAN
Die uitvoer van graan, in die besonder mielies, na Afrika het afgeneem, maar uitvoer na ander streke het daarvoor vergoed.
So was graanuitvoer verantwoordelik vir 26,5% van die groei in uitvoer na die Europese Unie, waarvan ‘n groot deel mielie-uitvoer na Italië was.
Graanuitvoer was verder verantwoordelik vir 75,7% van landbou-uitvoergroei na die Amerikas, wat hoofsaaklik danksy uitvoer na Mexiko in die 2012-’13 was.
Groei in landbou-uitvoer na Brics-lande was grootliks danksy groei in die kategorie “suiker en suikergebak-produkte”. 
– CARIEN KRUGER

Copyright © 2018 by Agricultural Business Chamber