09.09.2015

Landbouprobleme geen verrassing

Ekonomiese kenners in die landbou sê die tweede groot inkrimping in die landbou se bruto binnelandse produk (BBP) in opeenvolgende kwartale is geen verrassing nie. Hoewel die droogte die grootste oorsaak is, is daar ook ander redes.

Statistieke SA het verlede week aangekondig dat die ekonomie in die tweede kwartaal vanjaar met 1,3% ingekrimp het. Die faktore wat die meeste tot die afname in die BBP bygedra het, was die landbou, wat met 17,4% vir die kwartaal gekrimp het, mynbou met 6,8% en vervaardiging (6,3%). In die eerste kwartaal het die landbou ook met 16,6% gedaal. Tegnies gesproke is dié sektor nou in ’n resessie.
- Landbouweeklbad 

Perfekte storm
Dr. John Purchase, uitvoerende direkteur van die landbousakekamer Agbiz, sê die Agbiz-IDC-vertrouensindeks se groot afwaartse neigings oor die vorige twee kwartale het die inkrimping voorspel. Daarom is dit nie ’n verrassing nie.  “Die belangrikste rede is die ernstige droogtetoestande oor groot dele van Suid-Afrika, maar faktore, soos elektrisiteitsvoorsiening, beleidsonsekerheid en kwynende belegging in die landbou, speel ook ’n groot rol om ’n ‘perfekte storm’ te skep.  “Die landbou se BBP is egter oor jare baie siklies en daar is dus nie nou rede tot paniek nie, maar wél rede tot kommer.”

Arbeid
Me. Thabi Nkosi, ekonoom by Agri SA, sê die droogte het veral ’n nadelige invloed op mielie- en sonneblomoeste en suikerrietproduksie gehad.
“Ondanks die aansienlike inkrimping, sal die invloed op werkers na verwagting klein wees omdat die droogte nie ’n invloed gehad het in die meerderheid arbeidsintensiewe landbou-omgewings (soos by sitrusboere in die Wes-Kaap) nie.” “Die Regering moet nou op die ekonomie pleks van die politiek fokus,” was mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, se raad.  Hy sê voorkeur moet daaraan gegee word om die ekonomie te stabiliseer en ’n volskaalse resessie te verhoed.

Droogtehulp
Meintjes waarsku daar is ook droogte in dele van die winterreëngebied. El Niño kan nog ’n droë jaar bring. “Droogtehulp is nou van die grootste belang. Mislukte politieke agendas wat die landbou in onsekerheid gedompel het, moet nou eenkant toe geskuif word, minstens tot die ekonomie gestabiliseer is.”

Data
Volgens prof. Johann Kirsten, hoof van die departement landbou-ekonomie, voorligting en landelike ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria, kan ’n mens beslis sê: ”Ek het jou mos gewaarsku, moenie met die landbou mors nie”. 
Hy is egter pessimisties oor die gehalte van die data wat gebruik word en wil nie daaroor spekuleer nie. 
“Dit gaan goed in sekere bedrywe, slegter in ander en dan is daar groter probleme by sommiges. Dit sal dalk beter wees om die data te ontleed en detail te kry oor waar die grootste inkrimping was.”

– Nico van Burick
(http://152.111.1.45/argief/berigte/landbouweekblad/2015/09/04/LB/18/01.html) 

Copyright © 2018 by Agricultural Business Chamber