09.09.2015

Aksieplan kan koringbedryf red

Die beoogde Koringplan waarmee die koringbedryf gered moet word en wat deur die Koringforum opgestel word, is nog nie afgehandel nie. GERRIT BEZUIDENHOUT kyk waar sake staan. 
- Landbouweekblad 

Die Suid-Afrikaanse koringbedryf staan voor ’n groot uitdaging om die reuse-uittog van boere uit die koringbedryf die hoof te bied. Die Koringforum het dus verlede jaar begin om alle deelnemers aan die bedryf byeen te bring om oplossings te soek. 

Vrystellingsnorme kan ná oorweging ietwat verslap word en teling kan ondersteun word om kultivars met ’n hoër opbrengspotensiaal te teel, het mnr. Pieter Esterhuysen, ’n onafhanklike konsultant vir die graanbedryf, op die onlangse Agbiz Graansimposium in Pretoria gesê. 
Hy het gesê daar is basies vier voorstelle wat oorweeg word. Die voorstelle kan deelnemers aan die bedryf op verskillende maniere beïnvloed. 
Die voorstelle en hul uitwerking word in die tabel getoon. 

KANSELLEER DISKONTO
“In die eerste plek stel die forum ’n kansellasie voor van die R100/ton diskonto op ingevoerde koring op Safex. Met ander woorde, die prys van ingevoerde koring gaan dieselfde wees as plaaslik verboude koring. Hoewel dit op sigself nie ’n voordeel vir die plaaslike koringboere inhou nie, moet dit beoordeel word as deel van ’n pakkie voorstelle om die koringbedryf te red,” sê Esterhuysen. 

NUWE GRADERING
Die tweede voorstel hanteer die kwessie van gradering. “Hier word ’n voorstel gemaak dat ’n graderingstelsel ingebring word wat ’n supergraad sal insluit en wat wegdoen met die B4-gradering. Koringboere wat supergraad-koring (met ’n proteïeninhoud van meer as 12%) lewer, kry dan ’n premie vir hul produk op Safex, terwyl boere wat B4-grade lewer ’n ondergraadse prys vir hul produk sal ontvang.  “Belanghebbendes in die bedryf meen daar is in elk geval veel meer koringboere wat supergraad-koring as B4-grade in die Suid-Afrikaanse mark lewer,” sê Esterhuysen. 

Wysig DIFFERENSIAAL
Die derde voorstel hanteer die verandering in die differensiaal wat vir verskillende grade betaal word. “Die differensiaal tussen die verskillende grade koring wissel met vier persentasiepunte, oftewel R145 tussen die verskillende grade. Die voorstel is dat die differensiaal afgebring moet word na twee persentasiepunte, oftewel R72,50. Boere word dus met kleiner diskonto’s vir swakker grade gepenaliseer, wat ’n groter voordeel vir boere blyk te wees,” sê Esterhuysen. 

VERSKAF SILOSERTIFIKAAT wat gewaarborg is Die laaste voorstel hou verband met silosertifikate. Silo-eienaars kan tans die graad wat op ’n silosertifikaat verskyn, met ’n graad op- of afwaarts aanpas.  “Deur ’n gewaarborgde silosertifikaat te verskaf kan verwerkers verseker wees van die graad koring wat hulle kry. Belanghebbendes in die bedryf sê boere kan daardeur ’n bedrag nader aan invoerpariteit vir plaaslike koring ontvang,” sê Esterhuysen.  Die proses sal verder deur belanghebbendes in die bedryf bespreek word. “Daar sal ook op ’n individuele grondslag met die hoofverwerkers samesprekings gevoer word om ook hul bydraes tot die voorgestelde plan te verkry,” sê Esterhuysen. 

Hoekom die Koringplan?

Die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) se jongste verslag wys dat die totale oppervlakte waarop koring aangeplant is, sedert die 1980’s met meer as 60% gedaal het. 

“Droëlandkoring in die Vrystaat het in die 80’s sowat 50% van Suid-Afrika se koringaanplantings bedra. Tans dra dié streek net 14%
by tot die totale aantal aangeplante hektaar koring,” sê mnr. Pieter Esterhuysen, ’n onafhanklike graankonsultant.  Intussen het die vraag na
koring in Suid-Afrika verdubbel, terwyl plaaslike produksie gehalveer het. “Plaaslik produseer ons net 50% van die totale koringvraag en voer die res in,” sê Esterhuysen. 

Die redes vir die daling wissel van klimaatsverandering, droogtes wat koringaanplanting ontmoedig, tot ander, winsgewender gewasse, soos
sojabone en sonneblomme.  Boere in die Wes-Kaap het egter nie dié opsies nie en dus het koringaanplantings in dié gebied redelik stabiel gebly. 

Die Nasionale Koringforum het vervolgens besluit om drasties op te tree om die bedryf te red.  Bedryfsvergaderings verlede jaar en vanjaar het hoofsaaklik gefokus op graderingsregulasies, kultivar-oorwegings (om te kyk na die verslapping van die kriteria waarvolgens koringkultivars beoordeel sal word pleks van die verwydering van die kultivar van die lys) en die vier voorstelle wat ook ’n impak op die bedryf tot gevolg sal hê.

(http://152.111.1.45/argief/berigte/landbouweekblad/2015/09/04/LB/22/01.html)

Copyright © 2018 by Agricultural Business Chamber