02.03.2012

Sakevertroue op met 25%

Kaapstad. – Landbou-onder­nemings is opnuut optimisties oor hul omstandighede nadat hulle in die laaste kwartaal van verlede jaar nie veel moed gehad het nie.

Die Landboubesigheidskamer (LBK) en Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) se sakevertroue-indeks vir die eerste kwartaal van 2012 het op 64 punte te staan gekom, 25% hoër as in die laaste kwartaal van 2011.

Kaapstad. – Landbou-onder­nemings is opnuut optimisties oor hul omstandighede nadat hulle in die laaste kwartaal van verlede jaar nie veel moed gehad het nie.

Die Landboubesigheidskamer (LBK) en Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) se sakevertroue-indeks vir die eerste kwartaal van 2012 het op 64 punte te staan gekom, 25% hoër as in die laaste kwartaal van 2011.

Me. Lindie Stroebel, ekonoom van die LBK, sê 2011 is gekenmerk deur positiewe, maar lae vertroue in die sektor, behalwe in die laaste kwartaal van 2011 toe daar kommer was dat omset en bedryfswins in die sektor gaan daal weens die destydse veranderde reënpatroon.

Die vertroue is verder ondergrawe deur die styging in koste soos elektrisiteitstariewe, lone en regulatoriese koste.

Die prentjie het nou egter verander en die persepsie is dat daar ’n goeie graanoes op die lande is. Die vooruitsig is dat dit teen relatief hoë pryse sal verhandel vanweë die uitvoermoontlikhede en die lae binnelandse voorraad van die grane.

Danksy die verwagte oplewing in die landbousektor bekom produsente nuwe tegnologie en toerusting, wat die sake-omgewing van landbou-onder-nemings weer rooskleurig laat lyk.

Die ondernemings is ook meer optimisties oor werkskepping in die sektor sowel as beleggings.

Mnr. Rian Coetzee, hoof van landbou-ondernemings by die NOK, sê daar is ’n toename in aansoeke om beleggings in die landbou-waardeketting.

Hy sê die beleggings gaan nie soseer oor die uitbreiding van bestaande vermoë nie, maar oor die skep van verhoogde vermoë, wat weer indiensneming verhoog.

Stroebel sê die relatief sterk rand demp steeds valuta-verdienste deur die landbousektor. Die waarde van die rand en die ekonomiese agteruitgang in die Europese Unie belemmer veral die uitvoer van vrugte.

Daar word toenemend na die Verre Ooste en die Midde-Ooste as nuwe markte gekyk.

Stroebel sê die grootste struikelblok is die negatiewe verwagtinge van die Suid-Afrikaanse ekonomie, terwyl die koste van finansiering ook aan die styg is namate finansiers van risiko wegskram.

Article source: www.sake24.com

Copyright © 2018 by Agricultural Business Chamber