15.02.2012

Landbou dankbaar oor hawetariewe

“Dis ’n baie aangename verrassing om te sien dat hulle dié keer waarlik na ons geluister het,” sê mnr. Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro Dienste.

Hy sê die aankondiging dat hawetariewe vir die 2012/’13-boekjaar met 2,76%, en nie die beoogde 18% verhoog is nie, is “uitstekende nuus”.

Rabe sê die koste om langs hawens uit te voer, is reeds baie hoog, en hopelik sal dié besluit Transnet laat besef dat hy “nie kan maak en doen soos hy wil nie”.

Volgens Rabe sal dié stap nie ’n beduidende invloed op die reeds hoë uitvoerkoste hê nie, maar dit gaan die bedryf help dat die koste nie aansienlik meer styg nie. Hy sê tans is die koste om in vraghouers uit te voer sowat 10 keer hoër as dié van konvensionele uitvoermetodes, en hopelik sal dít ook binnekort aandag kry.

Nog konsultasie
Luidens ’n verklaring sê Transnet hy het kennis geneem van die hawe-owerheid se verhogingsbesluit. Hy sê die verhoging sal lei tot ’n verhoging in kontantvloei nadat die verwagte groei in volume in ag geneem is.

Die staatsbeheerde onderneming verbind hom steeds tot sy kapitaalbeleggingsprogram wat hy onlangs met R300 miljard vir die volgende sewe jaar verhoog het. Dié geld sal vir die dringende opgradering van hawens aangewend word.

Transnet beoog derhalwe om met die hawereguleerder in gesprek te tree vir die ontwikkeling van ’n tariefmodel wat sy vermoë sal ondersteun om verder in Suid-Afrika se logistieke te belê.

Duidelike boodskap
Intussen sê dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die Landboubesigheidskamer (LBK), hulle is baie in hulle skik met dié aankondiging.

“Ons het kort nadat ons die verhogingsvoorstel ontdek het, groot kapsie gemaak en die saak hard aangedryf binne Business Unity South Africa. Ons is baie dankbaar dis verlaag, want dit maak Suid-Afrika baie meer mededingend met die wêreldmark.”

Purchase sê hy hoop dat dié besluit ’n duidelike boodskap sal uitstuur wat staatsbeheerde ondernemings en hul aansoeke om verhogings betref. “Dis baie belangrik dat die Regering moet kyk na sekere maatskappye, soos Transnet en Eskom, wat hul verhogings basies op ’n monopoliebasis vasstel.”

Mnr. Dawie Maree, ekonoom vir Agri SA, sê hulle verwelkom enige verhoging wat laer as die Verbuikersprysindeks is. “Enigiets wat onder daardie syfer vasgestel word, kan ons mee saamleef. Ons besef dat koste styg, en dat hawetariewe derhalwe toeneem, maar dit moet binne perke gebeur.”

Article source: www.landbou.com

Copyright © 2018 by Agricultural Business Chamber